Opleiding
Click here for English
 
Boerdery in Suid-Afrika is, in vergelyking met besighede in die ander sektore van die ekonomie, in baie opsigte uniek. Hierdie stelling geld beslis ook vir die manier van finansiële rekordhouding en berekening van belasting van 'n boerdery asook die bemarking van landbouprodukte. Die probleem is egter dat die boer nêrens opleiding kon ontvang oor hoe om finansiële rekords en belasting- berekenings of bemarking vir spesifiek 'n boerdery te doen nie. Die bestaande kursusse fokus te veel op veral groot besighede en neem gewoonlik nooit die eiesoortigheid van landbou in aanmerking nie.

Teen die agtergrond van bogenoemde, het 'n landbou-ekonoom van Bethlehem, Dr Philip Theunissen, drie kursusse ontwikkel wat spesifiek dit in ag neem wat nodig is vir die finansiële rekordhouding, belastingberekening en bemarking van produkte vir 'n boerdery. Hierdie kursusse word deur sy vrou Marlize, onder die naam van Agekon Akademie, BK aangebied. Dr Theunissen het in 1982 'n B Com-graad aan die PU vir CHO behaal waarna hy die grade Hons B Com en M Com aan UNISA verwerf het. In 1998 behaal hy 'n Ph D aan die PU vir CHO. Hy is reeds sedert 1983 as landbou-ekonoom werksaam waartydens hy onder andere aan die hoof van 'n finansiële burodiens by 'n koöperasie gestaan het en as rekenmeester by 'n boerderymaatskappy werksaam was. Sedert 1991 behartig hy 'n privaat finansiële buro- en adviesdiens vir boere in die Oos-Vrystaat. Mev Theunissen se kwalifikasies behels ‘n B Mus-graad en Hoër Onderwys Diploma. Sy het 'n sertifikaat in afstandsonderrig in 1997 aan UNISA voltooi en daarna haar Nationale Diploma in Rekeningkunde aan die Technikon SA.  Marlize is ook werksaam by COMPUTUS as rekeningkundige.

Wat die kursusse verder uniek maak, is dat die onderrig op 'n korrespondensie- basis geskied sodat die boer, of eerder dalk sy vrou, dit tuis kan doen. Elkeen van die kursusse bestaan uit self-evaluerende werksopdragte oor 'n tydperk wat vir die student geskik is met 'n vrywillige oopboek eksamen aan die einde daarvan.

Die kursusse word nou reeds vir die vyfde jaar aangebied en is gedurende 1996 ook deur die SA Landbou-unie geëvalueer. Die kommentaar daarop was: "In die mate wat daar nog 'n 'skoenboks-mentaliteit' by boere ten opsigte van finansiële rekordhouding en belastingadministrasie bestaan, voorsien die kursusse die nodige materiaal aan diegene om 'n behoorlike tree in die rigting van groter ordening en kundigheid te neem. Om veral belastingwetgewing in eenvoudige taal om te skakel is nie 'n maklike taak nie. Die outeur het na mening goed hierin geslaag."

Die koste van die kursusse beloop R342.00 elk (BTW ingesluit) en sluit alle studiemateriaal asook die voorgeskrewe handboeke in. Die rekordhouding kursus is nou ook beskikbaar in Engels.  Belangstellendes kan die registrasievorm vanaf die tuisblad voltooi of meer inligting aanvra deur Marlize Theunissen in Bethlehem te skakel of te faks by telefoon (058) 303 9640 of te skryf aan Posbus 1615, Bethlehem, 9700, Republiek van Suid-Afrika.