| COMPUTUS
BESTUURSBURO, BK het op 1 September 1991 as 'n burodiens in die Oos-Vrystaat
begin funksioneer om spesifiek boere se finansiële rekordhouding
te behartig. Op daardie stadium het die burodiens uit een landbou-ekonoom
en vyf boere bestaan. Mettertyd het nog vyf landbou-ekonome en meer
as honderd boere by COMPUTUS aangesluit. In 1999 het COMPUTUS ook
die burodiens van Sentraal-Oos Koöperasie oorgeneem toe dié
deur OTK oorgeneem is. Die burodiens beskik tans oor 'n wye verskeidenheid
ervaring en kundigheid rakende boerderybestuur en finansiële
rekordhouding, sowel as belasting en boere word oor 'n groot bedieningsgebied
bedien.
As gevolg
van die toenemende vraag na COMPUTUS se produkte in ander dele van
die land, is daar op 15 Junie 2001 besluit om die bestaande struktuur
van die beslote korporasie met 'n maatskappy te versterk. Die doel
van die maatskappy is om COMPUTUS (die franchiser) se unieke werkswyse
en formaat van bestuursinligting deur middel van franchises aan
bestaande boekhouers en ouditeure (die franchisees) beskikbaar te
stel tot voordeel van hulle boere-kliënte. Dit is COMPUTUS
se mikpunt om 20 sulke franchises oor die hele land te vestig.
COMPUTUS
wil finansiële bestuursinligting deur middel van 'n franchise-netwerk
aan soveel as moontlik boere in Suid-Afrika aanbied. Hierdie inligting
bestaan uit makro-ekonomiese inligting wat die ekonomiese omgewing
beskryf waarbinne die boer beweeg en ook mikro-ekonomiese inligting
wat die boer se eie finansiële posisie weergee. COMPUTUS se
beleid is ook om akkurate bestuursinligting tydig aan sy kliënte
te voorsien. Rekordhouding word maandeliks op datum gebring terwyl
die produksiejaareindstate binne twee maande na die sluitingsdatum
van die produksiejaar aan boere afgelewer word.
Verskeie
makro-ekonomiese publikasies word gereeld aan boere beskikbaar gestel.
Markinligting (pryse en hoeveelhede) en 'n klimaatsverslag (reënval
en El-Nino) word weekliks vrygestel terwyl finansiële aanwysers
(rentekoerse en wisselkoerse) maandeliks beskikbaar gestel word.
Kommentaar op die staatsbegroting, 'n meganisasiekostegids, produksiekoste-begrotings
en 'n ekonomiese oorsig oor die landbousektor word op verskeie tydstippe
gedurende die jaar gepubliseer.
Die
mikro-ekonomiese inligting behels 'n jaarlikse kontantvloeibegroting
en die opstel van produksiejaareindstate. Laasgenoemde bestaan uit
'n balans- en inkomstestaat asook 'n ontleding van elke vertakking
(bv koring, mielies, skape, beeste) waaruit die boerdery bestaan.
Die produksiejaareindstate word ook telkens met 'n streeksgemiddeld
en 'n beste en swakste derde vergelyk. Uiteindelik wil COMPUTUS
die boer help om die inligting te interpreteer en in sy boerdery
te implementeer.
|